‘n Testateur het testateer vryhied om die eksekuteur van sy keuse te nomineer.
‘n Eksekuteur is enige persoon wat gemagtig is om op te tree ingevolge ‘n eksekuteursbrief wat deur die Meester uitgereik en onderteken of ge-endosseer is, en is een van die belangrikste rolspelers in die suksesvolle bereddering van ‘n boedel.
In die onlangse hofsaak van Brimble Hannath v Hannath and Others het die hof die belangrikheid daarvan om die regte persoon te nomineer beklemtoon en dit duidelik gemaak dat die howe nie sal skroom om ‘n eksekuteur uit sy amp te onthef nie.
In hierdie saak het die testatur sy boedel in trust bemaak met sy dogters genomineer as die trustees, begunstigdes en die eksekutrises in sy boedel. Die testateur het slegs die gebruik en voordeel van die vaste eiendom geleë in Noordhoek waar hulle ten tyde van sy dood gewoon het, aan sy langslewende eggenote bemaak. Dit het tot die gevolg gehad dat die langslewende eggenote ‘n onderhouds eis teen die boedel ingestel het van ongeveer R 6 miljoen in terme van die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades.
Die eksekutrises (die oorledene se dogters, bygestaan deur hul agente) het hierdie eis verwerp en nie in die Likwidasie en Distribusie Rekening aangetoon nie. Die eksekutrises het egter die eis teen die boedel, ingestel deur beide van hulle in hul hoedanigheid as trustees van ‘n bestaande trust aanvaar. Die restant van die testateur se boedel, sowel as die voorgenoemde eiendom is aan hierdie trust bemaak en die eis is sodoende in die Likwidasie en Ditribusie Rekening getoon.
Wanneer ‘n eksekuteur ‘n eis oorweeg, moet die eis op eie meriete met regverdige oorweging van die feite oorweeg word. Die hof het in die bogenoemde saak bevind dat die boedel nie die voldoende fondse gehad het om beide hierdie eise te betaal nie.
‘n Eksekuteur het in sy amptelike hoedanigheid verskeie funksies om te verrig, insluitende maar nie beperk tot ‘n plig teenoor die boedel se skuldeisers om hul eise te oorweeg, om ter goeder trou op te tree en om objektief te wees wanneer hulle hierdie funksies uitvoer.
Sou ‘n eksekuteur egter ook ‘n skuldeiser tot ‘n boedel wees sou dit onafwendbaar wees dat die eksekuteur sy eie eis moet oorweeg en sodoende sal potensiële konflik tussen sy belang as skuldeieser en sy plig as eksekuteur ontstaan. Die hof het dus bevind dat dit onregverdig sou wees om ‘n persoon as eksekuteur aan te stel wat beide ‘n begunstige en eiser is, die dogters in sodoende uit hul amp as eksekutrises verwyder.
Soos dit duidelik in die saak geblyk het, is dit altyd beter om iemand te nomineer wat jy vertrou, onpartydig en objektief is, met die nodige kennis en ervaring om jou boedel te beredder. Voor jy dus ‘n eksekuteur nomineer is dit belangrik om die volgende te oorweeg “waar die een teenoor ‘n ander staan in ‘n vertrouensposisie, wat die plig behels om die belange van ‘n ander vertrouensverhouding te beskerm, mag hy homself nie in ‘n posisie plaas waar sy belange in teenstryd is met sy pligte nie.”
Artikel deur Zancha Kruger, Kandidaat Prokureur
Vir meer inligting, kontak ons gerus by zancha@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za