Daar is baie min dinge so opwindend, dog senutergend, soos om vir die eerste keer eiendom te koop of verkoop. Alhoewel ‘n eiendomsagent (in die meeste gevalle) en transportbesorger aangestel word om die proses te lei, is dit waardevol om kennis te dra van en voorsiening te maak vir “versteekte” kostes. As voorbeeld, fokus hierdie artikel op ‘n vrystaande voltitel woning wat vir residensiële doeleindes gebruik word.
KOSTE VERBONDE AAN DIE KOPER SE REKENING:
Wanneer ‘n koper ‘n aanbod op hul droomhuis gemaak het, en die verkoper hierdie aanbod aanvaar het, stel die verkoper ‘n transportbesorger aan om toe te sien tot die oordrag van die eiendom in die koper se naam. Die koper is verantwoordelik om die transportbesorger se kostes te dek. Hierdie kostes word aangewys in die riglyn van fooie, soos bepaal deur die Regspraktykraad van Suid Afrika (‘LPCSA’). Hierdie kostes word jaarliks aangepas en word bereken op ‘n glyskaal met betrekking tot die koopprys van die eiendom.
Bo en behalwe die oordragkostes is die koper verantwoordelik om hereregte (belasting betaalbaar wanneer onroerende eiendom bekom word) aan SARS te betaal. Hereregte word volgens die waardasie van die onroerende eiendom bereken en is binne ses maande vanaf aanvaarding van die koopkontrak deur die koper betaalbaar. Indien die hereregte nie in die ses maande tydperk betaal is nie, sal die koper deur SARS beboet word. Eiendom word dikwels geadverteer as, “geen hereregte betaalbaar nie” en is dit belangrik om te verstaan dat dit NIE na die oordrag kostes verwys nie. Wanneer die verkoper vir BTW geregistreer is vir die transaksie se doeleindes, is daar gewoonlik nie hereregte op die transaksie betaalbaar nie. In so ‘n geval sal die verkoper verantwoordelik wees om BTW te betaal aan SARS in plaas van dat die koper die hereregte betaal (óf BTW, óf hereregte sal in elke geval aan SARS betaalbaar wees). Die koper sal, in die geval waar die verkoper BTW betaal, nog steeds verantwoordelik wees vir die betaling van die kostes van die oordrag aan die oordrag-prokureurs.
Baie Suid-Afrikaners is afhanklik van verband finansiering vir die koop van ‘n eiendom en bring dus ‘n aansoek by ‘n finansiële instelling vir ‘n lening. Indien die lening goedgekeur word, word daar ‘n verband geregistreer oor die eiendom as sekuriteit ten gunste van die finansiële instelling. Die proses verbonde hieraan is soortgelyk aan die oordragproses van die eiendom. Die finansiële instelling stel ‘n verbandprokureur op hul paneel aan om toe te sien tot die registrasie van die verband. Die koper is ook verantwoordelik vir die verbandprokureurs se kostes wat op dieselfde glyskaal bereken word soos voorsien deur die Regspraktykraad.
Daar sal verdere bykomende kostes op beide die oordrag- en verband prokureurs se rekeningstaat verskyn, soos byvoorbeeld die Aktekantoor se fooie, elektroniese opstel van dokumente asook vir die indiening van sertifikate (en ander fooie), welke bedrae ook deur die koper betaalbaar is.
KOSTE VERBONDE AAN DIE VERKOPER SE REKENING:
In die geval waar ‘n eiendomsagent die effektiewe oorsaak van die transaksie was, sal die verkoper verantwoordelik wees vir die kommissie betaalbaar soos aangedui en ooreengekom in die mandaat. Indien die verkoper ‘n verband oor die eiendom geregistreer het word hy/sy aanspreeklik gehou vir die uitstaande bedrag aan die bank betaalbaar. Die kostes wat aangegaan word om die verband te kanselleer is verder ook vir die verkoper se rekening en sluit die kansellasieprokureurs se rekening en die Aktekantoor fooi in.
In terme van Artikel 118 van die Munisipale Stelselswet (32/2000) mag die Registrateur van Aktes nie die oordrag van onroerende eiendom registreer sonder ‘n belasting-uitklaringsertifikaat wat bevestig dat alle bedrae verskuldig aan die munisipaliteit ten opsigte van daardie eiendom vir dienstegelde, heffings, tariewe en belastings vir die voorafgaande twee jaar ten volle betaal is nie. Om hierdie sertifikaat te bekom moet die verkoper vooraf genoemde tariewe en belasting vier maande vooruit betaal en sal dit proporsioneel terugbetaal word aan die verkoper, bereken vanaf datum van registrasie van eiendom in die naam van die koper.
Die verkoper sal ook verplig wees om die kostes te dek vir nodige nakomingsertifikate, insluitend die elektrisiteitsertifikaat, gassertifikaat en kewersertifikaat, indien nodig en waar van toepassing. In meeste gevalle word die kostes wat op die verkoper se finale rekeningstaat reflekteer, gedek deur die winste gegenereer deur die verkope van die eiendom.
Die kostes vervat hierin is nie noodwendig al die kostes wat ontstaan met die koop of verkoop van ‘n eiendom nie. Party eiendomme is onderworpe aan ander toestemmings soos vanaf huiseienaarsverenigings en/of uitklarings vanaf ‘n beheerliggaam, ens. Dit is daarom noodsaaklik wanneer ‘n onroerende eiendom gekoop of verkoop word om ‘n aktebesorger of eiendomsagent te raadpleeg insake die proses en kostes wat daaraan verbonde mag wees.
Artikel deur Lorandi van der Merwe (LLB), Aktebesorger
Vir meer inligting kontak gerus vir Lorandi by 044 601 9900 of lorandi@rgprok.com. www.rauchgertenbach.com