VASTE EIENDOM IN BESTORWE BOEDELS

VASTE EIENDOM IN BESTORWE BOEDELS

 

Vaste eiendom, veral eiendom in the Tuinroete, is ‘n gewilde kommoditeit vir elke persoon se eiendoms-portefeulje, maar hoe word daar met hierdie eiendom gehandel in ‘n bestorwe boedel?

Die geregistreerde eiendom van ‘n eienaar sal na sy / haar afsterwe  aan hul erfgename oorgedra word in terme van die bepalings van hul laaste testament of ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging. Die oordrag van eiendom kan ‘n langsame proses wees, maar deur u testament en belangrike dokumentasie op datum en in orde te hou, kan u die proses baie vergemaklik vir die Eksekuteur.

Die bestorwe boedel moet aangemeld word by die Meester van die Hooggeregshof in die geografiese area waar die oorledene 12 maande voor sy / haar afsterwe woonagtig was. Alternatiewelik, indien die oorledene nie in Suid-Afrika woonagtig was nie,  sal die boedel aangemeld word by die Meester van die Hooggeregshof in wie se jurisdiksie die oorledene vaste eiendom besit het.

Wetgewing magtig slegs ‘n aangestelde Eksekuteur om met die oorledene se bates te handel, wat die oordrag of verkoop van vaste eiendom insluit.

Indien die erfgename van die vaste eiendom verkies om eerder die eiendom te verkoop, is die Eksekuteur by magte om met die uitreiking van die Eksekuteursbrief die nodige stappe te neem om die eiendom te verkoop en die eiendom in die koper se naam te registreer.

Die Eksekuteur is nie verplig om te wag dat die Likwidasie en Distribusierekening (L&D) vry van beswaar gelê het, of dat die Meester die L&D goedkeur nie. Die verkoop van die eiendom is egter onderhewig aan die skriftelike toestemming van die erfgename van die vaste eiendom, sowel as die Meester.

Die Eksekuteur sal die koopkontrak sowel as ander relevante dokumentasie namens  die bestorwe boedel teken. Sodra die nodige dokumentasie geteken is, moet die Aktebesorger die nodige toestemming van die Meester verkry om die eiendom oor te dra in terme van Artikel 42 (2) van die Boedel Administrasie Wet.

Indien die Meester geen beswaar teen die verkoop opper nie, sal die Meester die nodige sertifkaat uitreik wat die Aktebesorger in staat stel om die transaksie by die Aktekantoor in te dien en die eiendom in die koper se naam te registreer.

Indien die erfgename verkies om die eiendom in hul naam te registreer, is die Eksekuteur nie by magte om die eiendom oor te dra voor die L&D nie ter insae gelê het, en deur die Meester goedgekeur is nie. Sodra die L&D goedgekeur is, kan die Aktebesorger sertifiseer dat die oordrag geregistreer kan word in terme van die L&D en dat geen beswaar aangeteken is nie.

Ongeag of u verkies om u eiendom te bemaak aan u erfgename of besluit dat dit uit die boedel verkoop moet word, maak seker dat u testament gereeld opgedateer word en dat die nodige dokumente geredelik beskikbaar is vir u Eksekuteur om die eiendoms-oordrag so vinnig en maklik moontlik te laat geskied.

 

Artikel deur Zancha Kruger, Boedelberedderaar (LLB)

Vir meer inligting kontak gerus vir Zancha, zancha@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za

__

Vrywaring
Geen inligting in hierdie publikasie vervat sal geag wees die lewering van regsadvies te wees in spesifieke aangeleenthede nie. Lesers sal verantwoordelik wees om sodanige regsadvies van hulle eie regsspan te ontvang. Hierdie publikasie is slegs vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes.

0

Related Posts

“VERSTEEKTE” KOSTES VERBONDE AAN…

Daar is baie min dinge so opwindend, dog senutergend, soos om vir die eerste keer eiendom te koop of verkoop. Alhoewel ‘n eiendomsagent (in die meeste gevalle) en transportbesorger aangestel…
Read more

Minderjarige kinders en vaste…

Die Kinderwet No. 38 van 2005 en Suid-Afrikaanse gemenereg bepaal dat alle persone onder die ouderdom van 18 jaar as minderjarig beskou word en beperkte kontraktuele kapasiteit het.  ’n Geldige…
Read more

Om te verseker of…

Verseker, baie geluk! Wat nou? Daar word gesê dat daar slegs 2 soorte voertuigbestuurders is: diegene wat in 'n botsing betrokke was en diegene wat nog in 'n botsing betrokke…
Read more
Newsletter Subscription
PMR Golden Arrow Award 2021 - 2022