Minderjarige kinders en vaste eiendom: ’n Omvattende gids

Minderjarige kinders en vaste eiendom: ’n Omvattende gids

Die Kinderwet No. 38 van 2005 en Suid-Afrikaanse gemenereg bepaal dat alle persone onder die ouderdom van 18 jaar as minderjarig beskou word en beperkte kontraktuele kapasiteit het. 

’n Geldige kontrak wat geen verpligtinge op ’n minderjarige kind oplê nie en slegs tot hul voordeel is, mag sonder die toestemming of bystand van die ouers of voogde gesluit word. Minderjariges kan dus eiendom besit  en kan sonder die bystand van hul ouers of voogde ’n skenking of erflating aanvaar, maar het nie die kontraktuele kapasiteit om dit op hul eie te verkoop, te skenk of ’n verband oor die eiendom te registreer nie. 

Die kontraktuele kapasiteit van minderjarige kinders, hang van hul ouderdom af:

  1. Kinders onder die ouderdom van 7 jaar het geen kontraktuele kapasiteit nie en dus sal ‘n kontrak wat deur ’n minderjarige onder die ouderdom van 7 jaar gesluit is ongeldig wees. Die ouers of natuurlike voogde van ’n minderjarige onder die eiendom van 7 jaar, kan ’n kontrak namens die kind sluit. 
  2. Kinders ouer as 7 jaar, maar jonger as 18 jaar het beperkte kontraktuele kapasiteit en kan met die bystand en onder die toesig van hul ouers of voogde kontrakte sluit en hul eiendom vervreem. Indien ’n kontrak sonder die bystand van die ouers of voogde met ’n minderjarige in hierdie ouderdomsgroep gesluit is, kan die ouers of voogde kies om die kontrak te repudieer of te bekragtig.  

Volgens Artikel 18(3)(c)(v) en Artikel 18(5) van die Kinderwet No. 38 van 2005, moet beide ouers of voogde namens die minderjarige kind optree of die minderjarige kind bystaan indien beide nog leef en nog die voogde is. 

Artikel 80 van die Boedelwet 66 van 1965 bepaal verder dat geen voog daartoe geregtig sal wees om vaste eiendom wat aan ’n minderjarige kind behoort te vervreem of te beswaar alvorens toestemming van die Hooggeregshof of die Meester van die Hooggeregshof verkry is nie. Indien die waarde van die eiendom minder as R250 000.00 beloop, sal die ouers of voogte die Meesterskantoor kan nader vir toestemming, maar indien die eiendom meer as R250 000.00 werd is, sal ‘n hofaansoek in die Hooggeregshof gebring moet word, welke aansoeke geweldige kostes inhou.

Hoewel minderjarige kinders eiendom kan besit, is dit in die lig van hul beperkte kontraktuele kapasiteit gekompliseerd en dikwels onprakties om met vaste eiendom te handel. Dit is juis hierom belangrik om die raad van ’n betroubare regspraktisyn in te win voordat ’n kontrak met ’n minderjarige gesluit word of die oordrag van vaste eiendom aan minderjariges oorweeg word.

Kontak ons gerus vir verdere inligting en om alternatiewe opsies te bespreek – aleida@rgprok.com / www.rgprok.com 

Artikel deur Aleida Kraamwinkel, Assosiaat, LLB (UNISA)

0

Related Posts

“VERSTEEKTE” KOSTES VERBONDE AAN…

Daar is baie min dinge so opwindend, dog senutergend, soos om vir die eerste keer eiendom te koop of verkoop. Alhoewel ‘n eiendomsagent (in die meeste gevalle) en transportbesorger aangestel…
Read more

Minor children and Immoveable…

The Children's Act No. 38 of 2005 and South African common law states that all persons under the age of 18 are considered minors and have limited contractual capacity.  A…
Read more