Egskeiding en dood: hier is wat jy moet weet
A en B sluit ‘n huwelik in 2011. Vyf jaar later word ‘n egskeidingsbevel uitgereik op 24 Oktober 2016 wat die verdeling van hul bates insluit. B sterf op 8 Desember 2016 met ‘n testament wat opgestel is net nadat die huwelik gesluit is. In hierdie testament bemaak B al haar bates aan haar “man”. Dieselfde “man” van wie A amper twee maande terug geskei het.
Artikel 2B van die Wet op Testamente No 7 van 1953 is hier van belang. Hierdie artikel stipuleer dat ‘n testament wat voor die ontbinding van die huwelik opgestel is, gelees sal word asof die vorige gade reeds vooroorlede is, gegewe dat die testateur/ testatrise gesterf het binne ‘n periode van 3 maande na ontbinding van die huwelik. Hierdie bepaling sal automaties van toepassing wees, tensy dit bewys kan word dat die testateur/ testatrise wel die bedoeling gehad het om sy/ haar vorige gade voortaan te bevoordeel, nieteenstaande die ontbinding van die huwelik. Die beweegrede agter hierdie bepaling is gebasseer op die algemene aanname dat die meerderheid geskeide partye nie sy/ haar vorige gade wil bevoordeel in sy/ haar testament nie. Die belangrike gevolg van hierdie bepaling is dat enige party tot ‘n egskeiding 3 maande na die ontbinding van die huwelik het om sy/ haar testament dienooreenkomstig te wysig. Dit word gevolglik aangeneem dat waar die party nie die testament gewysig het binne hierdie periode nie, dit wel die bedoeling van daardie party was om aan te hou om sy/ haar vorige gade te bevoordeel.
Bogenoemde situasie het homself afgespeel in die hofsaak van JW v Williams- Ashman NO en Andere [2020] ZAWCHC 27. As gevolg van die werking van die bogenoemde bepaling en B wat nagelaat het om enige verdere begunstigdes in haar testament te benoem, het B intestaat gesterf. Dit is belangrik om te onthou dat hierdie bepaling nie die reg van enige persoon wegneem om die hof te nader rakende die interpretasie van die testateur/ testatrise se bedoeling nie. In hierdie saak was daar egter nie voldoende bewys om die hof te oortuig dat dit wel B se bedoeling was om A te bevoordel, selfs na die egskeiding, nie.
Wanneer ons die gevolg en impak van die Artikel 2B bepaling oorweeg, is dit duidelik dat dit van uiterste belang is dat partye wat beplan om te skei, besig is met die proses of onlangs geskei is so spoedig moontlik hul testament(e) wysig om hul ware bedoeling te weerspieël.
Vir verdere navrae kontak gerus vir Kelly Fourie-Barnard of Erika Oosthuizen by 044 601 9900 of office@rgprok.com. www.rgprok.com